INLIGTINGSENTRUM

Barley [photo] 

Kundigheid

Bemeester basiese bemesting en verhoog jou suikerrietopbrengs

Deur Marcel Heine (landboukundige: KwaZulu-Natal) en Johan Campher (landboukundige: Laeveld)

Die wêreld se suikerproduksie het vanaf omtrent 50 miljoen ton in 1965 tot nagenoeg 175 miljoen ton in 2017 gegroei. Suid-Afrika het een van die ergste droogtes in sy landbougeskiedenis beleef wat daartoe gelei het dat opbrengste regdeur die suikerrietbedryf gedaal het. Die totale bemarkbare suikerproduksie is gewoonlik in die omgewing van 2 miljoen ton, maar het tot 'n vooruitskatting van 1.6 miljoen ton vir die 2016/2017-seisoen afgeneem (SASA).

Dit word derhalwe al hoe belangriker om te verseker dat elke aspek van suikerrietverbouing verfyn word sodat die opbrengs en omset 'n ware weerspieëling van die bereikbare potensiaal is gegewe die hoeveelheid beskikbare water. Een van hierdie faktore is plantvoeding – 'n aspek wat gemanipuleer kan word om die gewenste uitset te verkry.

Water is nodig vir die opname van voedingstowwe. Suikerriet het gelukkig 'n lang groeiseisoen en die vermoë om oor 'n baie langer periode na bemesting te reageer. Die patroon van voedingstofopname, sowel as die plasing daarvan, kan egter die voedingstofverbruiksdoeltreffendheid (VVD) beïnvloed.

Met bemestingaanbevelings kry die makro-elemente stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K) gewoonlik die meeste aandag, maar swael en mikro-elemente word ook deur die plant benodig om optimale opbrengs te verseker. N is meesal vir vegetatiewe groei verantwoordelik wat 'n noodsaaklike rol in die fotosinteseproses speel en tot die vervaardiging van suiker lei. Tydsberekening is belangrik aangesien te veel N laat in die seisoen 'n verlaging in suikerproduksie kan veroorsaak. P bevorder vroeë groei en is noodsaaklik vir die vorming van 'n sterk en groeikragtige wortelstelsel, asook vir vele ander prosesse in die plant. K stel die plant in staat om ander voedingstowwe en water meer doeltreffend te gebruik en beheer die beweging van suikers deur die plant. Swael (S) is 'n voedingstof wat dikwels oor die hoof gesien word, maar dit is baie belangrik en kan tot opbrengsverliese lei (Fig. 1). S is noodsaaklik vir die vorming van aminosure, wat deel van proteïenstrukture vorm, en ook vir die samestelling van sekere ensieme en chlorofil (Havlin et al., 2005).

N en K word in groot hoeveelhede benodig en die opname daarvan stem met die patroon van biomassa-opberging ooreen. Hierdie voedingstowwe behoort vroeg toegedien te word, maar dit sal ook van die verbouingsgebied afhang. P- en S-opname volg 'n veel platter kurwe, maar beide word benodig vir goeie groei vroeg in die seisoen (IPI, 2013). Die plasing van die minder mobiele elemente P en K verdien veral aandag en moet verkieslik in of naby die wortelsone geskied. Oorstaanriet het 'n hoër risiko van fosfortekorte gedurende die latere oorstaansiklus aangesien kunsmis wat met plant toegedien is met verloop van tyd uitgeput of vasgelê kan word. Die gebruik van skeurploegtande vir ondergrondse plasing tussen suikerrietrye word al hoe gewilder en dit is een manier om beter P- en K-beskikbaarheid te verseker indien dit saam toegedien word. Die breedwerpige uitstrooi van P op oorstaanriet word nie aanbeveel nie.

Besproeiingsgebiede

Een manier om te verseker dat voedingstowwe op die regte tyd gedurende verskeie groeistadiums toegedien word, is om sover moontlik van sproeibemesting gebruik te maak. Dit kan tot 'n verbetering in waterverbruiksdoeltreffendheid en VVD lei. Sproeibemesting word gebruik om te verseker dat 'n gebalanseerde voedingsbenadering vir beide makro- en mikro-element gevolg word. Hoewel kleiner hoeveelhede mikro-elemente benodig word, is hulle net so belangrik as makro-elemente indien grondvlakke onvoldoende is. Hierdie voedingstowwe sluit boor (B), sink (Zn), mangaan (Mn), yster (Fe), koper (Cu) en molibdeen (Mo) in.

  • B is noodsaaklik vir die sintese van planthormone en vir die beweging van plantsuikers.
  • Zn is deel van die ensiemstelsel wat plantegroei, die vorming van chlorofil, die transformasie van koolhidrate en die verbruik van suiker in die riet reguleer.
  • Mn is by fotosintese en wortelgroei betrokke.
  • Fe is noodsaaklik vir die vorming en funksie van chlorofil en is ook krities belangrik vir gesonde vegetatiewe groei. In groen blare is meeste van die Fe in die bladgroenliggaampie gelokaliseer.
  • Cu het 'n invloed op die chlorofilinhoud en is 'n katalis in verskeie oksidasieprosesse.
  • Mo speel 'n spesifieke rol in die katalisering van die reduksie van nitraat, wat deur die plant opgeneem word, na nitriet (Havlin et al., 2005).

Verdeelde toedienings van makro- en mikro-elemente kan ook op meer sanderige gronde oorweeg word waar voedingstofloging en soutgehaltekwessies moontlik kan voorkom (Figure 2). Die roetine- ontleding van grond, optimalisering van voedingstofinsette en 'n fokus op wat werklik benodig word, kan help om opbrengs en wins in die langtermyn te verhoog.

Figuur 1: Opbrengs soos deur bykomende voedingstowwe in 'n veldproef beïnvloed is (uit Singh et al., 2008 aangepas). α = 0,05.

 [photo]

Figuur 2: 'n Omnia proef in die Eston-omgewing op sanderige grond om die invloed van verdeelde of inkrementele toedienings en bykomende voedingstowwe op die groei en opbrengs van suikerriet vas te stel.

 [photo]

Verwysings
  • Singh, V.K., Shukla, A.K., Gill, M.S., Sharma, S.K., en Tiwari, K.N. 2008. Better Crops 2: 12-14.
  • Havlin, J.L., Beaton, J.D., Tisdale, S.L., en Nelson W.L. 2005. Soil fertility and fertilizers: An introduction to nutrient management. New Jersey: Pearson Education, Inc.
  • Fertilizing for high yield and quality sugarcane. 2013. International Potash Institute: Australia.