INLIGTINGSENTRUM

Barley [photo] 

Kundigheid

Bemesting van aangeplante weiding

Suid-Afrikaanse landbougrond wat al hoe duurder raak maak die aankoop van grond vir uitbreiding vir veeboere, wat net oor natuurlike veld beskik en reeds hul kapasiteit bereik het, 'n duur proses. Boere sal dus die aanplant van weidings moet oorweeg om hul kuddes te kan vergroot. Die produksie van proteïen vir veeproduksie is van kardinale belang en kan met bemesting verhoog word.

Kunsmis is een van die grootste insette met betreking tot die verbouing van aangeplante weidings. ʼn Goeie bemestingsprogram is krities vir reeds gevestigde aangeplante weiding om optimale produksie en gehalte te kan verkry.

Faktore wat bemestingshoeveelhede beïnvloed is:

  • Grondvrugbaarheid – sekere gronde is natuurlik meer vrugbaar as ander en het ʼn laer behoefte aan bemesting.
  • Reënval – hoe meer water ʼn gewas tot sy beskikking het, hoe groter die opbrengs en hoe meer voedingstowwe kan benut word.
  • Weidingsgewas – die spesie en kultivar ter sprake, speel ʼn belangrike rol omdat elke spesie spesifieke eienskappe en behoeftes het.
  • Die tipe dier – dit is ondoeltreffend om hoë gehalte weidings te benut met diere soos droë koeie wat met 'n baie goedkoper rantsoen steeds in die verlangde kondisie gehou kan word. Diere soos melkkoeie, jong groeiende beeste, lammers wat afgerond word en stoetdiere het meestal 'n behoefte aan beter gehalte weiding en is gewoonlik in staat om hierdie weidings doeltreffend te benut. Swak-bemeste weidings kan nie aan hoëproduksie diere se behoeftes voldoen nie. Gevolglik gaan bemestingspeile ook deels bepaal word deur die tipe dier en die stelsel waarin die weidings benut word.

Die produksie van aangeplante weiding is, net soos in die geval van ander gewasse, baie afhanklik van makro-voedingstowwe: stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K). Omdat die bemesting van hierdie elemente duur kan wees, behoort dit oordeelkundig gedoen te word.

Alhoewel N reeds met plant toegedien kan word, is dit goeie praktyk om saailinge van 10 cm hoog die eerste keer met N te bemes. Stikstof loog maklik uit die grondprofiel en kan eers benut word as daar reeds wortels in die grond is. N speel ʼn baie belangrike rol in droëmateriaalproduksie (DM-produksie) en die proteïeninhoud van weidings.

Die ideale P-vlak waarna gestreef moet word, is 20 mg.kg-1 grond. Fosfaat kan ook as ʼn riglyn teen 10% van die N-peile toegedien word. Indien P-vlakke in die grond te laag is, kan dit eenmalig reggestel word en die N:P-verhouding kan van 10:1 na byvoorbeeld 8:1 verlaag word sodat P stelselmatig oor seisoene in die grond kan opbou.

Die pH en P-tekorte moet voor vestiging aangespreek word, terwyl K en N eers na vestiging toegedien kan word. Alhoewel K mobiel is in die grond, is dit raadsaam om hierdie element by hoë peile ook voor vestiging in die grond in te werk. Die ideale K-vlakke moet bo 130 mg.kg-1 grond wees vir meeste weidingsgewasse.

Die grondsuurheid waarby meeste weidingsgewasse goed sal produseer, is in die omgewing van ʼn pH van >5.5 (KCl). Daar is wel verskille tussen die suurverdraag-saamheid van gewasse en kultivars en die persentasie suurversadiging van die grond moet dus ook in ag geneem word.

Navorsing is deur Omnia se lanboukundiges in die Heilbron-omgewing op Oulandsgras (Eragrostis curvula) gedoen met bemestingspeile van 40, 80 en 120 kg N/ha. Die kontrole is glad nie bemes nie. Figuur 1 wys die DM-opbrengs by die verskillende N‑toedieningshoeveelhede en Figuur 2 die proteïeninhoud by dieselfde N-toedienings. In Figuur 3 kan die totale hoeveelheid proteïen per hektaar geproduseer gesien word. Dit is die produk van biomassa en proteïeninhoud.

Figuur 1: Die opbrengs (ton/ha) by vier N-bemestingspeile op Oulandsgras

Figuur 2: Die proteïenvlakke (%) by vier bemestingspeile op Oulandsgras
Figure 2

Figuur 3: Die proteïen geproduseer per hektaar (kg.ha-1) by vier bemestingspeile op Oulandsgras
Figure 3

In 'n ander Omnia-proef in die Heilbron-omgewing op Oulandsgras, is verdere inligting met betrekking tot P-bemesting ingesamel. Die klei-inhoud van die grond waarop die proef gedoen is, was ongeveer 35%. Selfs op swaar gronde soos hierdie is daar baie goeie reaksie op P-bemesting verkry (Figuur 4). Die behandelings het P-bemesting by twee verskillende peile van N-bemesting ingesluit.

Figuur 4: Die opbrengs (ton/ha) by twee N-bemestingspeile, met en sonder 'n 10% P-bemesting

The treatments included P fertilization at two different N application rates.

Another trial, in the Chrissiesmeer region, shows the value of N, P and K fertilization in combination (Figure 5). It is clear that in this case K nutrition was also important in the successful cultivation of high-producing planted pastures.

Figuur 5: Die effek van verskillende N-bronne en -peile op die produksie van Oulandsgras in die Chrissiesmeer omgewing
Figure 5

Figuur 6: Die verskil tussen verskillende behandelings op Oulandsgras in die Heilbronproef
Figure 6Figure 6Figure 6

Nog ʼn proef, in die Chrissiesmeer-omgewing, toon die waarde van N-, P- en K-bemesting as kombinasie (Figuur 5). Dit is duidelik dat K-bemesting hier ook belangrik was in die suksesvolle verbouing van hoogproduserende aangeplante weidings.

'n Duimreël wat algemeen gebruik word vir N-bemesting is: 0.2-0.25 kg N-bemesting vir elke 1 mm reën, met ander woorde 100 kg N per hektaar vir 'n 500 mm reënval-gebied.

Alhoewel daar uitsonderings kan wees, is Suid-Afrikaanse gronde oor die algemeen redelik arm aan P. Fosfaatonttrekking uit die grond kan van 1 kg.ton-1 DM geproduseer (swak grasweiding) tot 3 kg.ton-1 DM ge-produseer (lusern) wissel. Indien plantmateriaal gesny en verwyder word, behoort P teen die bogenoemde peile teruggeplaas te word.

Kaliumonttrekking wissel van 15 kg.ton-1 (Oulandsgras) tot 25 kg.ton-1 DM geproduseer (lusern). Waar plantmateriaal verwyder word, is dit nodig om al die onttrekte K terug te plaas.

Die volgende beginsels moet oorweeg word by die bemesting van aangeplante weidings.

Bemes voldoende

Bemes eerder kleiner gedeeltes voldoende in 'n spesifieke jaar, as om te min kunsmis te gee. Dit is spesifiek van toepassing op N-bemesting.

Neem grondontledings voor bemesting

Uiteraard is N-bemesting baie belangrik vir aangeplante weidings, maar daar is 'n hele reeks ander elemente wat produksie dramaties kan onderdruk indien dit nie op standaard is nie.

Gebruik die regte N-bron

Ureum wat onder droëlandtoestande bo-op weidings uitgestrooi word, kan as gevolg van N-vervlugtiging geweldige verliese veroorsaak. Internasionale literatuur toon dat verliese van meer as 75% al gemeet is onder uiterste toestande. Ammoniumnitraat-N, bv. KAN (28), ANO (21), ens.  kan egter met groot vrymoedigheid onder dié tipe toestande uitgestrooi of uitgespuit word, met minimale verliese. Omnia het ook 'n ideale N-produk wat goed werk vir weidings. Greensulf 35 is ‘n unieke chemies-verkorrelde produk wat stikstof in die nitraatvorm, asook swael en kalsium bevat om opbrengs en proteïeninhoud te verhoog.

Hierdie data behoort as riglyn vir weidingsboere te dien. In hierdie artikel is gepoog om die belangrikheid van N- P- en K-bemesting uit te lig.

Deur Suzette Smalberger, Spesialis: Volhoubare Landbou; Omnia Strategiese Landboukundige Dienste;
Thinus Louw, Senior Landboukundige, Omnia Vrystaat;
Lafras Fouché, Landboukundige, Omnia Vrystaat;
en Dirk Coetzee, Landboukundige: Voergewasse, Pannar Saad