INLIGTINGSENTRUM

Barley [photo] 

Kundigheid

Die belangrikheid van goeie ontledingsnorme in doeltreffende bemestingsprogramme

Dit is vir Omnia Kunsmis van uiterste belang om seker te maak dat korrekte wetenskaplike norme gebruik word om grond-, sap- en blaarontledings te interpreteer. Die belangrikheid hiervan kan nie genoeg beklemtoon word nie aangesien 'n korrekte grond-, sap- en blaarontleding en interpretasie daarvan ekonomiese vooruitgang op die plaas verseker. 

Omnia Kunsmis heg soveel waarde hieraan dat al sy landboukundiges in suidelike Afrika onlangs vir twee dae byeen was om dié belangrike punt te bespreek en te debatteer. 

Aangesien gronde verskil en verskillende gewasse op dié gronde verbou word, is dit belangrik dat die betrokke landboukundige die gronde en gewasreaksie in sy werksomgewing ken en verstaan. Omnia het gewasspesialiste op feitlik elke gewas om te verseker dat die regte kunsmis op die regte plek, die regte tyd en teen die regte hoeveelheid toegedien word. Dit verseker die beste moontlike bemarkbare hoë-gehalte grane, vrugte, suikerriet, groente, ens.

'n Hoogs toegewyde navorsings- en ontwikkelingspan, in samewerking met die span landboukundiges, voer kalibrasie- en aanpassingsproewe uit om te verseker dat elke Omnia-kliënt die voordeel trek en sodoende gewasprestasie en gehalte verbeter. 

Die verwantskap tussen voedingstowwe wat met 'n grondontleding bepaal is en die voedingstofopname van plante en/of gewasopbrengs in 'n glashuis of in veldproewe, gee 'n aanduiding van hoe die betrokke gewas op bykomende bemesting gaan reageer.

Daar is gewoonlik ‘n goeie korrelasie tussen die toevoeging van bykomende bemesting en die grondontleding, wat dan verhoogde beskikbare voedingstowwe aandui. Soos in enige biologiese stelsel is daar gewoonlik draaipunte, met ander woorde waar daar nie meer 'n opbrengsreaksie op bemesting plaasvind nie. Figuur 1 dui duidelik so 'n tendens aan. 

Image
Figuur 1: Die opbrengsreaksie op verhoogde bemesting

A (sien Figuur 1) dui onderbemesting wat sal lei tot laer opbrengs aan. B dui optimale bemesting en doeltreffende gebruik van voedingstowwe aan. C dui oorbemesting aan wat geen verdere opbrengsreaksie tot gevolg het nie. D dui 'n oormaat van bemesting (toksisiteit) aan wat, byvoorbeeld, tot verbrakking (hoë soutvlakke in die grond) en 'n verlaging in opbrengs kan lei. Figuur 1 toon duidelik aan dat die grond-, sap en blaarontleding korrek geïnterpreteer moet word om optimale bemesting, wat doeltreffend benut word, na te streef.  

‘n Grondontleding dui die potensieel plantbeskikbare voedingstowwe aan. Die grondvolume wat deur die gewasse se wortels ontgin word, is ook bepalend in die opname van voedingstowwe. 'n Groter en dieper wortelstelsel sal verseker dat die gewas aan meer plantvoedingstowwe blootgestel is. Praktyke wat beworteling bevorder, moet dus nagestreef word. 

Grondontledings word gewoonlik geïnterpreteer om, indien die grondontleding laag is, te bemes om voldoende voeding vir plantgroei toe te dien, maar ook om die grondontledingswaardes oor tyd na 'n meer optimale vlak te verhoog. Indien die grondontleding reeds op 'n optimale vlak is, sal bykomende bemesting nie nodig wees nie. Daar moet dan volgens die oesverwagting bemes word om die grondvrugbaarheid in stand te hou. Figuur 2 dui die opbrengsreaksie op voedingstofvlakke in die grond aan, asook die bydrae wat bemesting tot opbrengs maak. Indien daar voldoende of te min plantbeskikbare voedingstowwe in die grond voorkom, kan die bemestingspeil daarby aangepas word. Hier speel die landboukundige in 'n spesifieke area 'n onontbeerlike rol in die sin dat hy ervaring het in die reaksie op bemesting van die gewasse wat aangeplant word. 

Image
Figure 2: Skematiese voorstelling van opbrengsreaksie op voedingsvlakke in die grond, asook die bydrae wat gebalanseerde bemesting tot opbrengs maak

Figuur 3 toon die opbrengsreaksie van mielies op 'n goed gebalanseerde bemestingsprogram aan. Die proewe is op 'n oorlê-land gedurende die 2011-2012 produksie-seisoen in die Schweizer-Reneke distrik gedoen. 'n Behandeling met geen bemesting is ook in die proef ingesluit, om die bydrae wat die grond se natuurlike vrugbaarheid na 'n oorlê-periode tot opbrengs het, te kwantifiseer. Die reaksie op bemesting was baie goed, en ten spyte van toedieningspeile wat heelwat hoër was as wat algemeen aanbeveel word, kon daar steeds nie 'n draaipunt bereik word nie. Die bemesting is teen 'n vaste peil toegedien, behalwe vir die veranderlike behandeling (120 kg N/ha, 21 kg P/ha, 9 kg K/ha en 21 kg S/ha).

Image
Figure 3: Opbrengsreaksie op bemesting van mielies in die Schweizer-Reneke omgewing gedurende die 2011-2012 produksieseisoen (De Jager, 2012)

Vir die veranderlike behandeling was die bemesting volgens die opbrengspotensiaal en grondchemiese resultate toegedien. Die veranderlike bemesting het 'n 750 kg/ha voordeel gehad bokant dieselfde hoeveelheid voedingstowwe wat teen 'n vaste peil toegedien is. Hierdie proewe het aan die betrokke landboukundige en boer belangrike kennis verskaf wat in die toekoms met groot sukses in die bemestingsbeplanning aangewend kan word.

Praat gerus met u plaaslike Omnia-landboukundige, wat vertroud is met bemestingsreaksies op verskeie gewasse, om 'n bemestingsbeplanning vir u spesifieke gronde saam te stel. Die praktyk sal doeltreffende benutting van voedingstowwe verseker, wat waarde op die plaas skep. Voorspoed met die produksieseisoen 2015-2016 wat voorlê!

Deur Kobus van Zyl (Landboukundige)