INLIGTINGSENTRUM

Nutriology [photo] 

 

Makro voedingstowwe

Dit betaal om aandag aan kalium te gee!

Droogte is nie ongewoon in suidelike Afrika nie en boere het reeds ’n aantal strategieë ontwikkel om die invloed daarvan te versag en die kanse op ekonomiese opbrengs, te verhoog. Tegnieke soos geenbewerking om grondvog te bewaar en die aanpas van plantpopulasies is voorbeelde hiervan, maar plantvoeding kan ook ’n rol speel. Navorsingsbevindinge het die belangrikheid van kalium (K) in plantvoeding en die gewasreaksie daarop gedurende droogtetoestande bewys.

Reaksie op k in droogtejare is groter

Navorsing in die Koringbelt van die VSA het die belangrikheid van kalium in droogtejare aangetoon. ’n Langtermyn proef in Iowa, waar goeie seisoene deur swakkes opgevolg is, het duidelik die voordeel van kaliumtoediening op mielies en sojabone bewys; opbrengs en wins as gevolg van die toediening van K was die hoogste gedurende die stremmingsjare (Tabel 1). Terwyl verhogings in goeie jare in gronde met matige vlakke van kalium gering was, het mielies wat gedurende die droogte 46.5 kg K/ha ontvang het, ’n opbrengsverhoging van 40%, en sojabone ’n verhoging van 26% getoon.

Fertilizer images

Resultate oor 18 jaar uit Indiana bevestig die sojaboonreaksie. Figuur 1 toon dat, in die eerste 12 weke na plant, in jare met lae reënval, ’n hoër opbrengsverhoging met K-toedienings verkry is.

Fertilizer images

Die rol van k in die verligting van droogtestremming

Kalium werk op verskeie maniere om fotosintese gedurende tye van vogstremming in stand te hou. Dit laat plante toe om aan te hou groei, hoewel stadiger, maar teen ’n pas wat uiteindelik die verbeterde opbrengs teenoor dié van gewasse met minder kalium kan verklaar. Vir ononderbroke fotosintese moet die plant sy wateropname en -retensie kan volhou en selfs verhoog, en ook die selmembrane wat die chlorofilstrukture beskerm in stand kan hou. Dit word bereik deur die osmotiese (sout) konsentrasie van die selle te verhoog en deur die vinnige toemaak van die huidmondjies (openinkies in die blaaroppervlak). Die verhoging van die osmotiese konsentrasie van die selle veroorsaak verhoogde aktiwiteit van die akwaporiene – groewe in die membrane van plantselle wat die opname van water vergemaklik. Die toename in osmotiese konsentrasie help die plant ook om water uit die krimpende hoeveelheid in die grond te onttrek en help om die selle ferm te hou. Kalium speel ’n noodsaaklike rol daarin om die fermheid van die sluitselle, wat nodig is om die huidmondjies te sluit, te verander en waterverlies te verhoed. Wanneer daar onvoldoende kalium is, verhoog dit die tyd wat die sluitselle neem om toe te maak vanaf ’n aantal minute tot langer as ’n uur. Dit veroorsaak dat die plante verder vog verloor en meer vatbaar vir droogte is. Plante wat vogstremming ondervind, vervaardig meer suurstofradikale – laasgenoemde is uiters reaktiewe chemiese samestellings wat die selmembrane sal vernietig en daardeur fotosintese ontwrig indien dit nie gekontroleer word nie. Om dit teen te werk, produseer plante NADPHoksidase – ’n ensiem wat met die suurstofradikale reageer en dit na neutrale samestellings reduseer. NADPHoksidase- aktiwiteit word deur kalium gereguleer.

Die instandhouding van k-opname in tye van droogtestremming

Soos wat grond begin uitdroog, neem die spoed waarteen kalium in die grondoplossing oplos, af. Dit kan tot ’n tekort by die worteloppervlak lei gedurende tye wanneer kalium krities vir groei is. Die verbetering van die grond se kaliumstatus verhoog die kaliumkonsentrasie in die grondoplossing, wat plante toelaat om aan te hou om die regte hoeveelheid kalium wat benodig word, op te neem. Navorsing uit die VK (Figuur 2) toon dat kaliumkonsentrasies in droë grond vier keer hoër moet wees as vir nat gronde indien plante opname van 5 kg K/ha/dag moet handhaaf.

Fertilizer images

Strategieë om grond-k te bestuur

In winsgewende seisoene behoort die kaliumstatus van grond onderhou en, indien nodig, opgebou te word en die kalium wat deur die oes van die graan verwyder word, moet ook in aanmerking geneem word. Kalium wat in die graan opgeneem word wissel na gelang van die gewas – ’n ton mielies bevat
3.9 kg K en sojabone 25-40 kg K per ton graan. Teen die tyd wat mielies begin blom, moes 66% van die kalium wat teen oes benodig word, al opgeberg wees omdat 30% van die kalium in die graan gehou word. In sojabone word 50% van die kalium in die graan gehou, met net soveel kalium wat vanaf blaar- en stamweefsel hermobiliseer word om in hierdie behoefte te kan voldoen.

In droeër seisoene waar boere bykomende kalium behoort toe te dien, is Omnia in die ideale posisie om die boer in tye van droogte by te staan. Ons het ’n reeks topbemestingsprodukte wat nitraatstikstof bevat (ook voordelig in tye van droogtestremming) in kombinasie met kalium – 1:0:1, 3:0:1 of 5:0:1 waaruit gekies kan word, afhangend van die hoeveelheid kalium wat benodig word. Die belegging in die onderhoud van die grond se kaliumstatus en die aanvulling met topbemestings betaal dividende en help om die risiko van swak opbrengste in droë seisoene aan te spreek.

Fertilizer images

Verwysings

  • K reduces stress from drought. Better Crops 1998-3 p34.
  • Johnston, A.E., Barraclough, P.B., Poulton, P.R. and Dawson, C.J. (1998): Assessment of some spatial variable soil factors limiting crop yield. Proceedings No. 419, The International Fertiliser Society, York, UK, 48 pages.

Deur Megan A’Bear
Bestuurder: Landboukundige Navorsing en Ontwikkeling