INLIGTINGSENTRUM

Oranges [photo] 

Spesialiteitsprodukte

Kunsmisplasing en optimale toedieningstyd (2)

Deur Derick Wessels en Kobus Coetzee (Landboukundiges: Wes-Vrystaat)

As gevolg van die onlangse droogtes en toenemende insetkostes word die hedendaagse saaiboer al hoe meer gedwing om doeltreffender te wees.

Bemesting is een van die grootste uitgawes en daarom moet die toediening in terme van plasing daarvan so doeltreffend moontlik gedoen word.

Met die doel om tydens die optimale planttyd so vinnig moontlik te plant, word boere gemotiveer om meer kunsmis voor plantyd toe te dien en minder tydens plant. Dit hou vele nadele in, soos byvoorbeeld ondergrondse versuring, die risiko om nie naby genoeg aan die kunsmisband te plant nie en die gevaar van voedingstofverliese.

Vooraftoediening van kunsmis het ook groot voordele, byvoorbeeld: deurdat voedingstowwe in die nat grond geplaas word, het dit genoeg tyd om na 'n plantbeskikbare vorm om te skakel.

Mielies se eerste opbrengspotensiaal word vroeg (V5) tydens sy ontwikkeling bepaal (Labuschagne en Van Zyl, 2015). Dit is daarom krities om met 'n goed gebalanseerde plantermengsel te plant. Voldoende fosfaat wat naby die saad gekonsentreer is (5 cm weg, 5 cm diep), lei ook, volgens navorsing, tot sterker saailinge. Die mielieplant ontwikkel aanvanklik stadig tot V5, maar daarna neem die groeitempo drasties toe (Pannar, 2009).

As gevolg van die toenemende groeitempo, verhoog die mielieplant se voedingsbehoeftes ook drasties (Figuur 1). Die finale opbrengspotensiaal van 'n mielieplant word tydens V12 bepaal. Voedingstekorte tydens hierdie groeistadium kan ernstige gevolge in terme van opbrengsverlies inhou. Die praktiese uitvoering van topbemesting is soms moeilik en die tyd is ook beperk. Tog het verskeie wetenskaplikes bewys dat die opdeling van stikstofbemesting ('n derde voor plant, 'n derde met plant en 'n derde na plant) die beste opbrengs lewer (Nemati en Sharifi, 2012). Faktore soos die regte stikstofbron wat dadelik beskikbaar is, die metode van toediening (bandplaas teenoor uitstrooi) en grondvog tydens topbemesting is belangrik om in gedagte te hou. Topbemesting van kalium hou ook voordele op lae kaliumhoudende gronde in.

Figuur 1: Kumulatiewe opname van N, P en K as 'n persentasie van die totale opname deur mielies (MVSA, 2007; Pannar, 2009)

 [photo]

Een van die struikelblokke vir vandag se saaiboer is om sy risiko so ver moontlik te beperk en alles in sy vermoë te doen om die mielieplant tydens die regte groeistadium vir optimale opbrengs te bemes. Omnia bied talle hulpmiddels en advies om die boer se risiko te beperk. Praat met 'n Omnia-landboukundige oor grondontledings vir voedingstatus, grondpotensiaal, grondgesondheid (OmniBio™), produksiefunksies vir elke streek, blaarmonsters, OmniSap®-ontledings en die verwerking van opbrengsdata om te verseker dat elke plaas se volle potensiaal ontsluit word.

Uitstrooi teenoor bandplaas

Om aan te sluit by die tydstip van toediening, moet daar ook besin word oor die plasing van misstowwe met die fokus op bandplaas teenoor breedwerpig uitstrooi. Weereens is hier twee hooffaktore wat 'n rol speel. Die eerste is om voedingstowwe optimaal van saailing tot oes beskikbaar te stel. Tweedens moet dit vir die boer so prakties en tydsdoeltreffend as moontlik gemaak word sonder om opbrengsverliese te veroorsaak.

Optimalisering van voedingstowwe vir plantopname

Wanneer voedingsstofbeskikbaarheid oorweeg word, moet 'n aantal faktore in gedagte gehou word, naamlik element eienskappe en -opname, vasleggingsrisiko en grondvrugbaarheid.

Elk van die makro- en mikro-elemente word op 'n spesifieke manier opgeneem (Barber, 1984). Tabel 1 dui die persentasie van die spesifieke opnames van elk van die elemente aan.

Tabel 1: Aanduiding hoe elke element deur plante opgeneem word (Barber, 1984)

Aanduiding hoe elke element deur plante opgeneem word [graph]

Stikstof (N) word meestal deur massavloei opgeneem, wat beteken dat dit saam met water deur die plant opgeneem word (MVSA 2007). Dus, indien die wortelomgewing gunstig vir wateropname is, behoort die plant stikstof maklik te kan opneem. In dié geval moet bewerking, stikstofbron en die omgewing ook in ag geneem word.

Ureumstikstof vervlugting wanneer dit op die grond uitgestrooi word en dus moet dit in die grond ingewerk word. Selfs dan is daar steeds 'n hoë vervlugtiginsgevaar (Botha, 1986). Indien ureum in klam grond gebandplaas word en die grond "geseël" word, word die vervlugtigingsrisiko verlaag. Hoë konsentrasies ureum kan egter ammoniumtoksisiteit veroorsaak. Bornman (2013) stel dat in koel, suur, nat gronde met 'n lae organiese materiaalinhod, die nitrifiseringsproses ingeperk word. Ammonium begin dan in hoë konsentrasies opbou en word dan so in toksiese hoeveelhede vir plantopname beskikbaar. 'n Konsentrasie van 150 mg.kg-1 kan al toksies raak indien ammonium die enigste stikstofbron is (80 kg.ha-1 op 1 meter rywydtes). Om toksisiteit te voorkom moet die grond-pH en basis katioonvlakke op veral kalsium instand gehou word en bronne gebruik word wat voldoende nitraatstikstof bevat.

Daar is nie 'n vervlugtigingsgevaar met ammoniumnitraatgebaseerde stikstofbronne nie (Botha, 1986). Maar daar moet 'n gunstige wortelomgewing wees waar die stikstof lê. Dus moet die grondvog, -temperatuur en -suurstof voldoende vir voedingstofopname wees.

Fosfor (P) word deur difussie opgeneem. Dit is 'n proses waardeur die voedingstof vanaf 'n omgewing met 'n hoë konsentrasie van die element na 'n omgewing met 'n lae konsentrasie beweeg. Fosfor is ook een van die elemente wat die maklikste vasgelê word en die minste beweeglik in die grond is (Havlin et al, 2004). Navorsing toon dat fosfaatvaslegging in baie lae pH-toestande (deur yster en alluminium) en baie hoë pH-toestande (deur kalsium) plaasvind. Die optimale pH (KCl) vir fosforbeskikbaarheid is tussen 5 en 6 (Figuur 2). Lae grondtemperature benadeel fosfaatopname, dus is dit voordelig om in koel toestande fosfaat te bandplaas. Alhoewel groter reaksies met bandplaas in gronde laag in fosfaat verkry word, word goeie reaksies verkry wanneer daar met genoegsame gebandplaasde fosfaat geplant word, al is die fosfaatstatus van die grond goed. Deur die grondontleding en omgewingstoestande in ag te neem, kan besluit word watter gedeelte van die fosfaat gebandplaas en watter uitgestrooi moet word. Met al die veranderlikes in ag geneem, bly dit veilig om die meeste van die fosfaat te bandplaas.

Figuur 2: Grafiese voorstelling van fosfaatvaslegging by onderskeie pH-vlakke (Havlin et al., 2004)

Grafiese voorstelling van fosfaatvaslegging by onderskeie pH-vlakke [graph]

Kalium (K) word ook grotendeels deur middel van difussie opgeneem. Die element kom meestal in groot hoeveelhede in die grond voor, dus sal daar reeds 'n hoë konsentrasiegradiënt tussen die wortel en gronddeeltjie voorkom. Vog en temperatuur is faktore wat 'n rol speel. Indien vog afneem, word die afstand wat kalium moet diffundeer al groter (Havlin et al, 2004), en onder droëlandtoestande is die uitdroging van die bo-grond (0 tot 20 cm) 'n werklikheid en word kaliumopname bemoeilik. Op gronde met 'n kaliumstatus van minder as 80 mg.kg-1 moet daar omtrent dubbeld die hoeveelheid kalium uitgestrooi word as met bandplaas. Hoër as dit raak die verskil al kleiner tot op 120 mg.kg1, waar omtrent een derde meer kalium vir dieselfde reaksie gestrooi kan word. Daar moet egter versigtig hiermee gewerk word, aangesien sekere kleiminerale kalium vaslê, in welke geval bandplaas dan die veilige opsie sal wees (Rehm, 2002).

Ander elemente soos swael, kalsium, magnesium en mikro-elemente wat noodsaaklik vir plantvoedingstowwe is, word ook elkeen op 'n unieke wyse deur die plant opgeneem.

Swael word meestal deur massavloei opgeneem, dus geld dieselfde beginsels as vir stikstof.

Kalsium en magnesium is elemente wat meestal breedwerpig deur bekalking reggestel word. Daar is wel voordele wanneer die elemente in konsentrasie saam met die primêre makro-elemente toegedien word.

Die plant het mikro-elemente in klein hoeveelhede nodig. Mikro-elemente kan wel maklik vasgelê word en dan is bandplasing in die gecheleerde vorm die aangewese praktyk. Sinkopname kan deur 'n oormaat fosfaat benadeel word (Havlin et al., 2004) en dus moet sinkbevattende kunsmis verkieslik gebruik word.

Die praktiese en tydsdoeltreffende benadering – die risiko's.

Kunsmishoeveelhede wat tydens plant gebruik word moet in gedagte gehou word. Om die plantproses te versnel, is produsente geneig om met al hoe minder kunsmis te plant (naby saad gebandplaas). Dit is veral nadelig wanneer te min fosfaat tydens plant toegedien word, aangesien die saailing energie benodig om 'n sterk wortelstelsel te kan vestig om sodoende grondvog optimaal te kan benut ten einde sy volle potensiaal te bereik. Rywydtes het 'n rol hier te speel: nouer rywydtes het 'n laer konsentrasie van voedingstowwe tot gevolg.

'n Saailing transpireer min in die eerste 20 dae na plant, dus word min vog opgeneem. Dieselfde geld vir stikstof, en dus is die stikstof in die plantmengsel kritiek gedurende hierdie tyd. Die nitraatvorm van stikstof is krities vir die jong saailing (Errebhi en Wilcox 1990), dus moet daar met genoeg ammoniumnitraatgebaseerde produk geplant word.

Figuur 2: 'n Aanduiding van plantmassa in gram 12 dae na plant op verskillende ammonium- tot nitraatverhoudings (Errebhi en Wilcox 1990)

Plantmassa in gram [graph]

Deur die produk te bandplaas, word verseker dat die voedingstowwe meer beskerming sal hê wanneer omstandighede ongustig raak en voedingstowwe dan meer plantbeskikbaar sal wees. Waar veral gereduseerde stikstofbronne soos ureum en ammonium gebandplaas word, vind versuring plaas. Produkte moet dus op 'n diepte geplaas word dat versuring weer met bekalking opgehef kan word.

Neem grondontledings, die omgewing, produk, rywydtes, plantestand, gewas en groeistadium in ag wanneer tussen uitstrooi en bandplaas gekies moet word. Raadpleeg jou naaste Omnia-landboukundige vir ontledings en raad oor hierdie besluite.

Verwysings
  • Barber, S.A. 1984 Soil bionutrient availability. John Wiley & Sons, New York, NY.
  • Beegle, D. 2017 Managing Phosporus for Crop Production. Penn State College of Agriculture Sciences.
  • Bornman, K. 2013 Ammonium toxicity: The silent killer. Nutriology Newsletter. Summer 2013.
  • Botha, A.D.P. 1986. Nitrogen losses from Urea, UAN and LAN when applied to different soils. Soil and Irrigation Institute.
  • Errebhi, M. en Wilcox, G.E. 1990. Plant species response to ammonium-nitrate concentration ratios. Journal of plant nutrition. Volume 13, 1990 – Issue 8.
  • Fertilizer Handbook. 2007 FERTASA, Seventh revision.
  • Havlin, J.L., Tisdale, S.L., Beaton, J.D., Nelson, W.L. 2004. Soil Fertility and Fertilizers. Seventh edition. Pearson education. 165-167, 199-217, 260
  • Labuschagne, A. en Van Zyl, K. 2015. Bemesting van mielies – waar, wanneer en hoekom? SA Graan. Julie 2015.
  • Nemati, A.R en Sharifi, R.S. 2012. Effects of rates and nitrogen application timing on yield, agronomic characteristics and nitrogen use efficiency in corn. Intl J Agri Crop Sci. Vol., 4 (9), 534-539, 2012.
  • Pannar. Ken die mielieplant. 2009.
  • Rehm, G. 2002. Nutrient management. Use of Banded Fertilizer for Corn Production. Regents of the University of Minnesota