INLIGTINGSENTRUM

Kids & fertilizer [photo] 

Vir die kinders

Wat dit verg om op die plaas te kom: Die storie van ‘n kunsmiskorrel

Deur Vossie Wilsnach, Bestuurder: Chemtech kunsmisgehalte-laboratorium

Vir die kleinspan en dié wat jonk van gees is

Sy oupa het dit met Springbokkleure vergelyk. Sy pa noem dit ‘n roeping. Al wat hy weet, is dat hy hiervoor bestem is. Baie soos hy droom hulle hele lewe lank daarvan om eendag op die plaas te kan werk en gewasse te kan help verbou. Hy, Cassie, gaan vandag hoor of hy dit gemaak het. Of hy, na al die swoeg en sweet, harde werk en oefen, uiteindelik gaan kwalifiseer om as ‘n Omnia kunsmiskorreltjie ’n verskil op die plaas te gaan maak.

Hy onthou die harde pad soos gister. Dit het begin by die streng instrukteurs. Hy het gehoor hulle was van die wêreld se beste ingenieurs, skeikundiges en landboukundiges. Hy was van die begin af geleer dat hy homself met net die beste roumateriale moet voer.
Aspirant-kunsmiskorreltjies was verbied om met slegte invloede te meng. Die swaarmetaalbende was moeilik om te vermy. Hy ken die rampokkers al op hulle name: Arseen, Lood, Kwik, Kadmium, Selenium en Chroom. Mens moes maar mooi trap, want  hulle sluip altyd in wanneer mens dit die minste verwag. Cassie moes ook met die mikro-elemente maar matigheid voor oë hou.

Maar hy is mooi geleer. Hy het nooit voor die versoeking geswig nie en is skoon anderkant uit. Omnia was toe reeds baie beïndruk met sy vordering. Hy het die reëls ook mooi gevolg; vat presies die regte hoeveelheid stikstof, fosfor en kalium en sink elke dag, met hier en daar ‘n bietjie kalsium. Die grootmense het altyd van Wet 36 gepraat, maar sy instrukteurs het hom duidelik laat verstaan dat die boere moet kry waarvoor hulle betaal. Dit het hom gemotiveer om sy chemiese toetse met onderskeiding te slaag.

Maar Cassie weet: dis nou hier waar die manne van die muise geskei word. Om ‘n Omnia kunsmiskorreltjie te word, is sy goeie chemiese kwaliteit lankal nie meer die enigste vereiste nie. Hy sal fisies ook sterk genoeg moet wees. Die toetse was baie streng. Hy moes tussen 2.36 en 4 mm groot wees, nie enige stukkies hê wat afbreek wanneer hy en sy maats teen mekaar skuur nie, en ook minder as 0.05% stof op sy lyf hê.

Tot dusver het hy sy spiere goed gebult. Omnia is nog tevrede. Maar nou vir daardie laaste twee toetse waarvoor almal so bang is. Die instrukteurs noem dit korrelhardheid en koekgeneigdheid, maar al wat hy weet, is dat hulle nie klonte mag vorm wanneer hulle hard teen mekaar in ‘n sak gedruk word nie. En dat hulle sterk moet wees. Baie sterk. Die laboratorium-mense sit ‘n 3 kg gewig op jou kop, en jy mag nie breek nie! Hy het gehoor dat as jy sterk genoeg is om ‘n 3 kg gewig op jou kop te hou sonder om te breek, jy ook sterk genoeg sal wees om onder ‘n druk van 1.3 Bar met ‘n moderne planter toegedien te word. Dis mos wat ‘n Omnia kunsmiskorrel wil hoor!

Cassie was baie senuweeagtig voor hy die goeie nuus gekry het. Hy het geweet hy het goed gedoen, maar dit was baie lekker toe Omnia vir hom die groen lig gee. Sy Oupa gaan so trots wees! Nou kan hy wat Cassie is ook die wêreld help voer en deel van die trotse Omnia tradisie wees!